Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 04 SEPTEMBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat die Suid-Kaap Amateurradioklub moet aankondig dat die sleutel van Charlie Stevens, ZS1AWG, op Donderdag 18 Augustus 2011 in George stil geraak het. Charlie was 81 jaar oud en ‘n erelid van die Suid-Kaap Amateur Radioklub. Charlie het sy amateurlisensie vroeër laat verval maar na sy aftrede het hy die RAE op die ouderdom van 72 herskryf, die morsekodetoets geslaag en sodoende weer ‘n lisensie verkry.

Ons innige meegevoel gaan aan sy LV Lorien, kinders en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

DIE SARL-WEB – MEER EN MEER PROBLEME

INTEGNET BESPREEK LotW

7P8EME DX-EKSPEDISIE BENODIG JOU FINANSIËLE ONDERSTEUNING

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

DIE SARL-WEB – MEER EN MEER PROBLEME

Die afgelope week, toe ingenieurs dink dat hulle alles uitgesorteer het, het nuwe probleme verwoesting aangerig deurdat die bediener kort-kort gaan staan het. Die probleem is verbonde aan die kodering van programmatuur en gaan terug na datastelsels wat gebruik is om van die funksies aan te dryf. Waarom sommige mense dink dat die SARL en sy Raad iets het om weg te steek gaan die verstand te bowe. Die Raad is angstig dat die web reg sal werk en dit is ook die begeerte van elke lid en ook die gebruikerbesoekers.

Dit moet onthou word dat die mense wat aan die web werk vrywilligers is; hulle het hulle eie daaglikse werk en doen die werk aan die web in hulle spaartyd. Hulle doen dit vir hulle liefde vir amateurradio en wat daarmee saamgaan. Die diensverskaffer se rol is om te verseker dat die bediener en sy stelsels werk; dit is die taak van die SARL-span om aan die werklike programmatuur van die webwerf te werk. Terwyl baie lede waardering het vir die werk wat deur ons vrywilligers gedoen word, is daar sommige wat beledigend raak en ongegronde beskuldigings in hulle e-posse maak. Toon asb. begrip; om hulle wat hulle bes probeer om die probleme reg te stel sleg te sê, is teenproduktief; hulle benodig jou begrip en ondersteuning.

GAUTENG RTA UITGESTEL

Weens reis- en besigheidsverpligtinge van verskeie van die sprekers by die RTA, is dit besluit om die datum vir die RTA in Gauteng van 10 September na 24 September 2011 te verskuif, wat ook Erfenisdag is. Daar word beplan om n kort aanbieding te doen oor watter erfenis steeds vandag dryfkrag aan amateurradio verleen, d.i. die passie om te kommunikeer en die passie om tegnologie aan te dryf.

NEEM JOU HANDDRAAGSTEL OP WERKDAG WERKTOE

Vrydag 23 September is ‘neem vandag jou handdraagstel na die werk en skool’. Demonstreer amateurradio aan jou vriende en kollegas tydens tee- en etenspouses of, indien jy by ’n skool is, voor skool en tydens speeltye. Neem ook ’n aantal brosjures oor amateurradio saam en deel dit uit. Dit kan van die SARL se kantoor bestel word. Stuur jou versoek aan Mariska per e-pos aan admin@sarl.org.za. Doen dit reeds hierdie week ten einde twee weke toe te laat vir versending en aflewering. U kan ook brosjures aflaai van www.hamradio.org.za.

Indien u ’n afgetredene is kom op lokale herhalers op die lug en praat met hulle wat iewers demonstrasies doen.

INTEGNET BESPREEK LotW

Die volgende Integnet sal op 25 September om 19:30 aangebied word waartydens Chris Burger die gasspreker sal wees.

Sedert die begindae het radioamateurs QSL-kaarte uitgeruil om kontakte te bevestig. Behalwe die genot wat met kleurvolle poskaarte uit alle dele van die wêreld gepaard gaan, voorsien die kaarte in die behoefte om kontakte vir verskeie toekennings te bevestig.

Groot DXpedisies maak nou oor die 100 000 kontakte. Om hierdie kontakte te bevestig vereis baie tyd en uitgawes. ’n Elektroniese manier om kontakte te bevestig skakel baie van die tyd en onkoste uit en verminder ook die hantering van posstukke deur die wêreld se QSL-buro’s.

In 2001 het die ARRL begin met die bou van ’n betroubare databasis genoemd “Logbook of the World, of LotW”. Deur die gebruik van LotW is dit baie dikwels moontlik om bevestiging van ’n DX-kontak binne 24 uur te kry, heel anders as om vir maande of jare te wag vir ’n kaart via die QSL-buro’s.

Een van die vroeë voorstanders van ’n elektroniese QSL-metode en die enigste nie-Amerikaanse alphatoetser van LotW, was Chris Burger, ZS6EZ. Chris het meer as ’n kwartmiljoen kontakte op LotW geplaas. Hy sluit op 25 September by ons aan om te verduidelik waarom deelname sin maak en om die boute en moere van plasing van jou logs op LotW te verduidelik.

7P8EME DX-EKSPEDISIE BENODIG JOU FINANSIËLE ONDERSTEUNING

Om hierdie DX-pedisie moontlik te maak het die Suid-Afrikaanse Radioliga ’n fondsinsamelingsveldtog begin. U kan dit met ’n finansiële bydrae ondersteun. Deponeer u bydrae in die SARL se bankrekening, ABSA rekening 4 071 588 849, takkode 632 005.

Wanneer ’n elektroniese oordrag gedoen word, gebruik 7P8 en u roepsein as die verwysing en stuur ’n e-pos aan artoday@sarl.org.za met besonderhede van u donasie, u roepsein en e-posadres. U sal ’n e-pos ter erkenning ontvang en u roepsein sal by die lys van ondersteuners gevoeg word.

Baie beplanning, die versameling van toerusting en die ontwikkeling van antennas en koste i.v.m. die projek is gedurende die laaste aantal jare aangegaan. Die algehele antennastelsels is sedert die laaste ekspedisie na Namibië deur ZS6OB herontwikkel en oorgebou. Daardie ekspedisie is aangewys as die 3de beste ekspedisie uit 69 wêreldwye ekspedisies van daardie jaar – geen geringe prestasie vir ’n klein groep ZS-radioamateurs nie.

Hierdie ekspedisie sal ’n rekord opstel betreffende internasionale ekspedisies vir AMA sovêr as infrastruktuur, toerusting, banddekking en antennastelsels aangaan en wat ooit ’n ander land besoek het en dit alles met mobiele toerusting. Die groep sal al die BHF/UHF-bande, van 50 MHz tot 1 296 MHz, behalwe 4 m, op AMA dek.

Die ligging sal die Ramabanta handelspos in ruitverwysing KG30VI wees en die span sal die roepsein 7P8EME gebruik.

Daar sal ook beperkte bedrywigheid op HF, meesal in GG en op 144 en 50 MHz d.m.v. tropo- en meteoorspreiding wees om deelname vir lokale operateurs met kleiner BHF- en UHF-stasies moontlik te maak.

Die stasie sal van 14 tot 26 September op die lug wees.

Die spanlede is:
Pine, ZS6OB (7P8EME)
Wynand, ZS6ARF (7P8QRO)
Dick, ZS6BUN (7P8BUN)
Pieter, ZS6PA (7P8PA)
Dan, HB9CRQ, (7P8RQ)
Hermann, DL2NUD, (7P8HP)
Erika Pienaar en Lana sal die kombuis beman en en die manne se honger mae stil.

U bydrae tot die projek sal opreg waardeer en erken word. Besoek www.amateurradio.org.za/7P8.htm

Ons wens die span alle sukses met die ambisieuse onderneming toe.

SARL-LEDETAL NADER DIE 1 000 MERK

Die ledetal van die SARL het die afgelope week vinnig tot byna 1 000 gestyg soos die afsnydatum van 31 Augustus nader gekom het. Indien u nognie hernu het nie, daar is nog ’n paar dae grasie voordat u voordele van lidmaatskap tot ’n einde sal kom. Daar is ’n hele aantal voordele te wagte wat uitgestel is totdat die tegniese probleme met die web opgelos is. Sodra dit verby is, sal u toegang hê tot interessante artikels oor amateurradio en tegnologie en oudiosnitte vanoor die hele wêreld.

Betaal per tjek, bankdeposito of elektroniese oordrag. Besonderhede verskyn op die rekening wat u ontvang het, of skakel Mariska by 011 675 2393.

VERGADERING MET OKOSA

Die kwartaallikse skakelvergadering tussen die SARL en OKOSA sal hierdie week plaasvind. Boaan die agenda is die verbeterings aan die radioregulasies, CEPT-tipe ooreenkomste met SAOG-lande en die voorstel vir nuwe toekennings in die 5 MHz-band sowel as toegang tot frekwensies in die omgewing van 500 kHz.

UITSLAE VAN DIE BOLAND 40 m NAELLOOP

Hier volg die uitslae van die Boland 40 m naelloop van 24 Julie..

Hoogste punte:
ZS4MP, 63

Hoogste punte per afdeling:
ZS1OB, 25
ZS2EC, 37
ZS3R, 45
ZS4MP, 63
ZS5C, 30
ZS6APT 62

Volledige puntetellings:
ZS6APT 62
ZS6ARQ, 39
ZS6ELI, 32
ZR6NGB, 31
ZS6BHF, 30
ZS6AA, 27
ZS5C, 30
ZS4MP, 63
ZS4DEF, 38
ZS3R, 45
ZS3JLR, 43
ZS2EC, 37
ZS2J, 35
ZS1OB, 25

Baie geluk aan hierdie stasies, julle sertifikate sal spoedig gepos word.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat daar verskeie sonvlekke sigbaar is. Hulle veroorsaak egter nie tans sonfakkels nie en die sonaktiwiteit bly oor die algemeen op lae vlakke. Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week minder as 55.

20 m kan goeie DX-resultate oplewer en daar is ook 15 m-openinge vroeg smiddae moontlik.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.


DAGBOEK VAN GEBEURE

Beginnende vandag – Maak ’n geldelike bydrae aan die 7P8EME DXpedisie wat van 14 tot 26 September plaasvind.
15 September – Laaste dag vir ‘n hoë resolusie foto van die deelnemer geneem tydens die JVT se jeugsnelkompetisie aan saardt@intekom.co.za.
18 September - Laaste dag vir insending van logstate vir die JVT se jeugsnelkompetisie.
23 September – Neem jou handdraagstel vandag saam werktoe.
24 September – RTA in Gauteng.
25 September – Integnet om 19:30.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003